Fliekaand

Fliek in pajamas!

Dis ’n eerste: ’n fliek-aand saam met Finesse – in pajamas! Kom kyk saam met ons na die vroeë aandvertoning van Mamma Mia 2 by uitgesoekte Ster Kinekor-teaters op Woensdag 8 Augustus.

Jy kan in enige slaapklere of ’n onesie opdaag, solank jy in die openbaar daarmee gesien kan word. Ons kry ons eie net-vir-Finesse-teater, maar op pad soontoe stap ons deur die foyer en by ander fliekgangers verby… Ons gaan ook foto’s neem wat op Facebook geplaas gaan word.

DATUM | Woensdag 8 Augustus (die dag voor Vrouedag)
TYD | 17:00 vir 17:30 vertoning
KAARTJIES | R155 per persoon
INGESLUIT | Jou fliekkaartjie, ‘n geskenkpak en ‘n cupcake
LYS VAN TEATERS:
Centurion City, Kolonnade, Randburg Cresta, Carnival City Casino, Baywest
Vaal Mall, Mimosa Mall, Tygervalley, Somerset Mall, Potch Mooi Rivier

Hierdie geleentheid is nie net vir die lekker nie,
dis ook ter wille van jou gesondheid. Regtig.

Die oomblik wat jy by die teaterdeure uitstap, sal jy heerlik verfris en ontspanne voel. Jy sal besef dat jy van al jou probleme vergeet het, al was dit net vir ’n paar uur.

Fliek het selfs nog gesondheidsvoordele: springmielies! Hierdie snoepery help om jou bloedsuiker te reguleer, jou cholesterolvlak te verlaag, jou verteringsproses ’n hupstoot te gee en kan jou selfs help om gewig te verloor.

Ons gaan die langverwagte MAMMA MIA 2 kyk

Hierdie vervolg op die baie gewilde Mamma Mia bevat weer ABBA-liedjies en al die mooi en snaakse mense van voorheen. Saamsing en saamlag word natuurlik toegelaat, want ons los die mans, kinders en troeteldiere tuis. Maak jou gereed vir “Angel eyes”, “When I kissed the teacher” en “I wonder” soos jy dit nog nooit gesien het nie.

Die storie-op-note gaan oor die mooi dogter (Amanda Seyfried) van Donna (Meryl Streep) wat laas op die sprokiesmooi Griekse eiland nié getrou het nie. Sy is swanger en dit laat haar ma terugdink aan hoe sy ook op ’n jong ouderdom swanger was. Ons kry dus ’n kykie in die verlede van Meryl Streep se karakter en die drie adonisse wat haar oë laat blink het.

Voor jy vra: Ja, Colin Firth, Pierce Brosnan en Stellan Skarsgård speel in die film…

Slegs vir vroue in hulle pajamas en onesies

Op die vooraand van Vrouedag kan jy jou vriendin, niggie, ma, dogter en selfs jou skoonma saambring. Solank julle pajamas dra!
Die fliek-in-pajamas-foto met die meeste “likes” op Facebook wen ’n prys.

Vir diegene wat meen hulle wen nooit iets nie, is daar ’n geskenkpak vir elke fliekvlooi nog voor jy op jou sagte stoel neersak. In die voorportaal word jy verwelkom en kan jy ook gesels met een van ons glansgaste. Kom kyk hoe lyk Gretha Wiid, Lynette Beer, Lika Berning, Caroline Grace-Brüssouw, Therese Benade en ander in hulle pajamas!

Van lekker lag en lekker huil kom ’n wêreldrekord

Daar bestaan nog nie ’n wêreldrekord vir die meeste vroue in pajamas in ’n fliek in verskillende teaters oor ’n hele land nie. Toe, help ons om die meeste vroue ooit in pajamas in Ster Kinekorteaters by Mamma Mia 2 bymekaar te kry!

Die huidige wêreldrekord vir die meeste mense wat by verskillende teaters in hulle pajamas gaan fliek het is 1 184.
Help ons om hierdie rekord te breek. Ons wil graag 2 200 vroue bymekaarkry om in hulle pajamas na Mamma Mia 2 te gaan kyk.

Omdat ons graag terugploeg in die gemeenskap, wil ons mooi vra: Bring enige niebederfbare kos saam wat ons dan vir liefdadigheid sal skenk.

MAMMA MIA fliekaand
R155
  • Kom breek 'n WÊRELDREKORD saam met ons!